BEGAAFDE vs. GESALFDE

Ek het nou die dag na ‘n WorshipU lesing deur skrywer, spreker & aktivis Christine Caine geluister, en sy het iets genoem wat ‘n merkwaardige invloed op my verwysingsraamwerk gehad het.
Alhoewel WorshipU ‘n initiatief is om Aanbiddingsleiers regoor die wêreld toe te rus met die nodige hulpbronne om mense in Lofprysing & Aanbidding te lei, was dít wat sy gesê het vir my so van toepassing op ons alledaagse lewe en die manier waarop jou en my lewe, as volger
van Jesus, die wêreld rondom ons beïnvloed.

 

Sy meen dat daar ‘n verskil is tussen om ‘n Begaafde en ‘n Gesalfde lewe te lei.

Alhoewel die Begaafde persoon ‘n vertrek sal vul, ‘n indruk sal maak, aandag sal vestig op dit wat hy/sy doen – die Gesalfde persoon lewens sal verander, kettings & jukke sal breek in Sy Naam en selfs ‘n groter impak sal hê!

 

Ons moet onsself afvra:
Met die hoeveelheid Christelike Musiek, Preke en blootstelling wat ons op ‘n daaglike basis ontvang, wáárom is daar steeds so baie van ons in hierdie wêreld wat vasgevang is in slawerny, vrese, sonde, verkeerde besluite, verslawing, ens?

 

Hoe kan mense in kerke instap, week in en week uit, en steeds oor 10 jaar daardieselfde kerk binnestap, met diesélfde sonde & diesélfde dinge wat hulle gevange hou?
Dis omdat daar baie BEGAAFDE mense in hierdie lewe is, maar minder GESALFDES. Hierdie wêreld het meer Gesalfde lewens en mense nodig!

 

Nou vra ons hóé kry ons hierdie Salwing? Ons wil tog, na alles, ‘n impakvolle
lewe lei tot eer & verheerliking van Sy Naam.

 

Die antwoord is egter eenvoudig: ons moet ons donker-kamer binnegaan en ons moet toelaat dat die kleipot “gebreek” word sodat die olie kan uitkom en vloei!
Ons lewe egter in ‘n samelewing waar generasies eerder opgehef wil word as om hulself te onderwerp aan die Vader en dit wat Hy van ons vra – en as ons nie onsself beskikbaar stel om gebreek & gepers te word nie, gaan ons aanhou om Begaafde lewens te lei, eerder as Gesalfde lewens!
(Gehoorsaamheid kom ook by op as ek dink aan hoe ek Sy salwing op my lewe kan verwag.)

 

Die hoeveelheid wat jy bereid is om “gebreek” te word is die mate waartoe God jou kan gebruik! Hy wil ons gebruik, nie net om mense aan Hom voor te stel nie, maar ook sodat ons op só ‘n manier kan leef, dat dit spreek van Sy waarheid, Sy liefde en Sy Vaderhart.

En dit is egter die Gesalfde wat verál die mag het om mense hieraan bloot te stel, en om hulle vry te maak van alles wat hulle terughou van om Hom ónbeskaamd en ónvoorwaardelik te dien!

 

Isaiah 10:27
“It will happen in that day, that his burden will depart from off your shoulder, and his yoke from off your neck, and the yoke shall be destroyed because of the anointing oil.”

 

Groete
Anchën

 

 

Related Posts