God Laat Ons Leef

Aanbidding

Ritmia Aanbidding streef daarna om ‘n veilige hawe te skep vir elkeen om die Here te ontmoet.
Musiek is die hartklop van Aanbidding en daardeur kan ons vrylik Sy troonkamer binnegaan, sonder enige iets wat ons terughou.

Tydens Lofprysing en Aanbidding in ons Moedertaal sowel as Engels, streef Ritmia Gemeente daarna om plek te maak vir dit wat die Here in ons harte wil openbaar deur Sy hart na te jaag in ‘n Gees-vervulde seleksie van Musiek.

Leierskap

Anchën Groenewald

aanbidding@ritmia.org.za

Oor Anchën

Grootgeword met Musiek-oefeninge op Donderdae-aande & vóór in die Kerk sit op ’n Sondag.
Hoe dan anders met ’n Pastoor as ’n Pa & ’n Ma as Aanbiddingsleier?
Steeds het ek nooit gedink dat ek presíés in hulle voetspore sou volg nie – God werk op misterieuse maniere, ek admireer dit van Hom!
’n Liefde vir sang, musiek, en mense is iets wat ek net nog áltyd gehad het.
Gebore in die Vrystaat, maar wortels geskiet in Rustenburg, Noord-Wes in 2006. Dís waar my hart is en vir ewig sál wees.
Ek was ook nog altyd ’n dromer, ek én my 3 jaar ouer broer – ons lewens was/is nie perfek nie, (Pastoorskinders is mos die stoutste, of so sê hulle) maar ons het nog áltyd ondersteuning & motivering van ons ouers af gekry. My droom van kleins af was om ‘n Sangeres & Aktrise te word – my hele skoolloopbaan getuig daarvan. Ek was nog altyd geseën met só veel geleenthede én die moed om dit aan te gryp, met só veel talente maar ook die vermoë om hard te werk vir dit wat ek wil bereik. Sy Hand was (en is steeds) só teenwoordig én sigbaar in my lewe, selfs in die seer & slegte tye.
Ek glo Jesus se liefdesdaad het my VRY gemaak, en daarom kan ek presies dít wees – vry van énige iets wat my terughou van om onapologeties mysélf te wees. Solank Hy lief is vir my nes ek is, is dit genoeg vir my. Dis die een ding wat ek áltyd sal uitbasuin – die onverdiende & onveranderlike liefde & genade wat Hy in Sy Vaderhart vir ons het. 
Steeds het ek altyd gewonder presies wát Hy droom oor my, want droom oor my doen Hy beslis!
En toe lei Hy my tot by Ritmia Gemeente, wonderwerk op wonderwerk, soos net Hy kan.
Die voorreg om te kan doen waarvoor ek lief is én om dit tot SY eer te doen, koester ek met my hele hart en ek sal dit nooit ophou doen nie! Om dit egter híér in die Wesrand te kan doen, is nog ’n groter voorreg!